Daar is ‘n rede hoekom mens se agtererf so gewild is vir ontspanning en kuiers – want dis meer privaat (en soms ook groter) as die voorste erf! Dan maak dit mos net sin dat die agterste gedeelte van jou huis met meer interessante elemente soos gekleurde tuine, swembaddens, pergolas, tuin meubels ens. versier word.
Maar hokaai voordat jy sommer net bos gaan met blomme hier en stoep meubels daar – jou huis se styl moet nog steeds in gedagte gehou word, asook die praktiese eienskappe van jou agtererf (waarvoor wil jy dit gebruik? Vir sosiale geleenthede? Of moet dit sommer net mooi opgestyl word vir jou persoonlike smaak?).
Kom ons beloer so paar idees wat jou beslis gaan inspireer…
Kombuise en sitkamers is gewoonlik die vertrekke wat uitkyk op die agtererf, en daarom gaan baie mense met pragtige glas- en/of skuifdeure wat oopmaak op hul agterstoepe om meer spasie na binne te bring.
Natuurlik kan jou agterstoep ook perfek funksioneer as ‘n ekstra vertrek, mits dit ordentlik beskut is teen wind en weer.
So paar stoele/sofas, dalk ‘n eetkamer stel wat geskik is vir buite, ‘n potplant of twee, briljante beligting, en siedaar!
Nie genoeg spasie vir ‘n groot eet/sitstel nie? Al wat jy kort om jou eie lees hoekie te geniet is ‘n gemaklike stoel, ordentlike beligting, en ‘n tikkie dekor vir karakter.
Aan die ander kant, as jy nou regtig genoeg spasie (en ‘n mooi begroting) het, sal ons beslis ‘n ordentlike swembad voorstel!
Hou ook jou agtererf se uitsig in gedagte. As jou huis, byvoorbeeld, op ‘n strand of die see uitkyk, benut dit ten volle met jou meubels en dekor se uitleg sodat almal dit kan geniet.
Selfs al is die agterkant van jou huis niks meer as ‘n binnehof nie, kan jy dit nog steeds meer stylvol maak met faktore soos sitplek, plante/blomme, beligting ens. Besluit waarvoor jy dit wil gebruik (etes onder die sterre, kuier saam met vriende, ens.), maar hou ook genoeg vloerspasie oor om gemaklik rond te beweeg.
Vir nog ekstra inspirasie, kyk na hierdie 18 briljante doen-dit-self projekte vir jou stoep en tuin.